11/07/2007

Harry Simon agter tralies

deur Marietjie Naudé
HARRY Simon, Namibië se voormalige wêreldkampioen bokser, word sedert gister in die Windhoek sentrale gevangenis aangehou ná sy appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis in die Hoërhof misluk het. Simon is in Mei 2005 deur landdros Gert Retief vier jaar gevangenisstraf opgelê waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is vir sy aandeel in ’n gru motorongeluk op 21 November 2002 waarin drie Belgiese toeriste dood en ander insittendes ernstig beseer is. Die oorledenes was die 22 maande oue baba, Ibe de Winter, haar pa dr. Frederic de Winter en me. Michelle de Clerk.Simon is vir strafbare manslag en roekelose bestuur aangekla en skuldig bevind. Regter Collins Parker en Waarnemende Regter John Manyarara het in hul appèluitspraak gister gesê Simon se skuldigbevinding sal gehandhaaf word terwyl sy appèl om sy vonnis te verlig, van die hand gewys is. Terselfdertyd is die staat se appèl om Simon ’n swaarder vonnis op te lê, ook deur die regsbank van die hand gewys.Simon se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, het kort na die uitspraak in die hof aangedui dat sy kliënt teen die uitspraak gaan appelleer. Mnr. Namandje het egter by navraag gistermiddag aan Republikein gesê dat hulle nog besig is om die uitspraak te bestudeer. “Ons sal binne die volgende paar dae ’n besluit neem of ons teen die uitspraak gaan appelleer,” het mnr. Namandje gesê. Volgens die uitspraak het Simon homself geen guns bewys deur nie ter verdediging van homself tydens sy hofsaak te getuig nie. Dieselfde geld volgens die twee Regters vir sy kordate bewering dat hy uit skielike nood opgetree het en geen getuie ter stawing hiervan geroep het nie. Die Regters het ook bevind dat die Hoërhof nie met die feitelike bevindinge van die streeklanddros se uitspraak kan inmeng sonder om die beginsels van die saak te na te kom nie. Op grond hiervan is die appèl teen Simon se skuldigbevinding nie toegestaan nie. Die Hoërhof is volgens die uitspraak wel by magte om ’n vonnis soos deur die laerhof opgelê, te verander. Die Regters was egter in hul uitspraak van mening dat dit nie aanbeveel word nie – behalwe in buitengewone omstandighede soos in gevalle wanneer dit in belang van geregtigheid is.“Na alle aspekte in ag geneem is, is ons van mening dat ons nie met die vonnis van die laerhof moet inmeng nie: die vonnis is geskik aangesien dit in belang van beide die appellant en die gemeenskap is,” lui die uitspraak. Die staat se saak is deur adv. Eileen Rakow behartig.